As die nuwe jaar aanbreek is daar groot opgewondenheid op alle vlakke. Mense geniet die rustyd, maar ook die opwinding van iets nuuts.
Dit is ook ‘n tyd waar mens dink aan more of wens oor gister, maar ek was tussen Kersfees en Nuwejaar in die dankbare spasie van om die oomblik te beleef en te geniet. Ek wou nie hê Kersfees moet kom nie, maar ook nie verbygaan nie. Nuwejaar kon ook nog eers bietjie laag lê, maar Vader Tyd kan nie sy arms in die verkeerde rigting draai net omdat ek ‘opstroppelis’ is nie. Dit het my opnuut laat besef dat elke oomblik in ons lewe iets is om te geniet.
Elke oomblik is belangrik in God se oë. Hoe skryf mens neer wat mens van 2018 verwag of wat ʼn mens opgewonde maak daarvan?
Ek tel my pen op. En al wat ek oor die hele bladsy kan skryf is: Wees dankbaar! Wees dankbaar vir ʼn nuwe begin en vir elke oomblik. Wees opgewonde vir wat voorlê, dit gee mens hoop.
‘n Baie spesiale vriendin van my kon dit nie beter beskryf het nie. Haar woord aan ons was ‘nuwe begin’. Die nommer 2018 is saamgestel met ʼn 10 en ‘n 8. Die nommer 10 is weer 5 + 5 waar 5 genade beteken, dus is dubbele genade vir ons aangeteken die jaar. Agt se betekenis is weer nuwe begin of iets nuuts. Dus is daar ‘n dubbel genade vir iets nuuts wat God wil doen in ons elkeen se lewe.
Ons is nie seker wat die dag van more inhou nie, nie eers die volgende minuut nie, ons is in God se hand. Dus leef mens met ‘n hoop en ‘n wete vir die beste, vir die goeie oor jou gesin, familie en vriende. Geloof word uit hoop gebore. As ‘n mens hoop het, kan daar geloof wees dat als goed gaan uitwerk soos God in Sy Woord vir ons wys. As ons weet wie God is en dat Hy net die goeie wil hê vir ons, kan daardie hoop en geloof groei sodat dit deur ons kan vloei na mense en situasies rondom ons.
Kompleksiteit is die doodsteek van klomp dinge het ek ook besef in 2017. As dinge te ingewikkeld raak om uit te sorteer dan moet ʼn mens na eenvoud toe terug keer. Ook in die praktiese van mens se daaglikse bestaan. Hou dinge eenvoudig.
Hou dus hierdie jaar vas aan God se Woord. Spandeer tyd saam met Hom en hê ʼn verhouding met Hom. Hy is nie ʼn God van boksies nie. Hy is oral. Hy is nie tevrede om ‘n Sondag oggend God te wees nie. Hy wil jou oorval met Sy liefde deur elke tree van jou bestaan. Trek Hom in in jou daaglikse roetine en wees verseker dat Hy Sy hand oor jou en jou geliefdes hou. Sien uit na die nuwe wat God in jou lewe gaan doen in 2018.
Ek hoop en bid dat hierdie jaar vir almal ‘n dubbel genade vir iets nuuts inhou.

Share This
Website Design & Maintenance by Lenomedia.
web design potchefstroom