Dis daardie tyd van die jaar wanneer jy die groot hoeveelheid donker sjokolade wat jy verorber nie hoef te verduidelik nie. Februarie is ook gedoop as ‘Die maand van die liefde’ en gaan vir my oor meer as net Valentynsdag.
Liefde is een van die sterkste emosies wat mens kan ervaar. Liefde is wel meer as ʼn emosie. As jy vir iemand wys dat jy lief is vir hulle word dit op ʼn praktiese vlak uitgeleef soos bv. om blomme vir iemand te gee. Elke persoon ervaar liefde op ʼn ander manier. Die verliefde gevoel wat veroorsaak word deur ʼn chemiese reaksie in die brein, vervaag soms, maar die liefde bly staan.
Ek onthou nog goed toe ek en my man ontmoet en verlief geraak het. Daardie gevoel was altyd so spesiaal om te dink dat iemand so lief is vir ʼn mens dat hulle vir jou berge sal verskuif en na amper 14 jaar voel dit nog so. Met ons trou voorbereiding het die dominee ons meer vertel oor die verskillende soorte liefde. Daar is agt soorte liefde volgens die Antieke Grieke, maar mense ken meestal net die drie genaamd Eros, Phileo, en Agapé.
Net om ons geheue te verfris:
Agapé liefde is wanneer mens en dier gerespekteer word omdat hulle lewende wesens is. Dit is wanneer jy ʼn ouer dame help met haar trollie of iemand help soek wat iets verloor het.
Die Phileo liefde kan gesien word as die liefde waar jy kies om ʼn persoon se vriend te wees en te ondersteun.
Eros liefde is die romantiese gevoel wat jy teenoor ʼn persoon het.
Daardie drie soorte liefde is bedoel om mekaar aan te vul in ʼn huwelik. Ons het almal sterk en swak punte en wat mens gedurende die huwelik uitvind, is hoe om hierdie tot mekaar se voordeel te gebruik.
Die liefde is wel ook nie net bedoel vir jou lewensmaat of nabye gesin nie. Ons almal ken die vers in Johannes 3:16 wat sê dat God die wêreld so liefgehad het dat Hy Sy enigste Seun na die wêreld gestuur het. Dus is jy Jesus se hande en voete hier op aarde en kan jy mense om jou aanraak deur die Agapé liefde.
Dan is die Storge liefde die soort liefde wat ons vir ons familie het. Hierdie liefde veroorsaak ʼn gevoel van veiligheid omdat jy weet ʼn persoon is daar vir jou. In ons gesinne kan dit uitgeleef word deur jou kinders te leer en op te voed in liefde, maar hulle ook bewus te maak van die Agapé en Phileo liefdes en om so om te gee vir ander.
Valentynsdag is ʼn spesiale dag waar jy jou geliefdes kan bederf en jy bederf kan word. Dit is ook nie die enigste dag waar jy die wonder van die liefde kan ervaar nie. Leef dit uit, sommer elke dag. Al is dit net met ʼn glimlag of om iemand te help. Daardie liefde wat God in jou hart geplaas het kan jy na jouself toe uitleef en so sal dit na ander uitvloei.

Indien jy iemand wil bederf met ʼn bos blomme enigetyd deur die jaar, kontak gerus vir Netflorist om dit vir jou af te lewer by hulle deur (Hierdie is ʼn affiliaat en ek kry ʼn klein persentasie van die verkope).

Share This
Website Design & Maintenance by Lenomedia.
web design potchefstroom