Die definisie van ’n onderwyser volgens Wikipedia is om ander te help om kennis, bevoegdhede en waardes in te win. Dit stel ook die take van ʼn onderwyser as lesbeplanning volgens curricula, aanbied van lesse en assessering van leerders. Dan word buitemuurse aktiwiteite genoem.

Wat vir my interessant was, was dat dit verder genoem het dat onderwys ʼn komplekse aktiwiteit is wat plaasvind in ʼn spesifieke konteks bv. tyd, kultuur, sosio-ekonomiese situasie ensovoorts. Die vaardighede van ʼn onderwyser word, volgens die internet, bepaal deur die verstaan van die rol in verskillende kontekste.

Al hierdie definisies is waar, maar daar is ʼn ware, dieper definisie aan ʼn onderwyser.

Wat van ʼn persoon wat geroepe voel om leerders te help en te ontwikkel op alle vlakke van die lewe; sosiaal, opvoedkundig en emosioneel? Wat van die persoon wat dag na dag luister na al die stories wat kinders opgewonde en soms hartseer maak? En toepaslik reageer, al is hy of sy oormoeg gemerk die vorige aand. Wat van ‘n persoon wat sy beste gee as krieket afrigter nadat hy die hele dag les gegee het? Moenie die juffrou vergeet wat die lekkerste drukkies kan gee nie, al is sy besig met drie ander leerders.

Daar is soveel meer aan onderwys en onderwysers as wat daar erkenning aan gegee word. Dit is juis hoekom ek besluit het om my hart te deel.

Met my seun se revue aand het ek net weereens besef hoeveel ekstras in die naam onderwyser inpas. Hoeveel beplanning, werk, ure se oefen en baie geduld daar ingaan om so ʼn produksie op die planke te bring. 

Daar het toe ʼn vraag by my opgekom?  Hoekom doen onderwysers en skole dit?  Hulle kan dit netsowel los en eerder fokus op net dit wat van hulle verwag word, soos die eksamen wat begin.  Die antwoord was eintlik maklik. Dit is omdat hulle omgee. Omdat hulle genoeg omgee vir my kind om hom die geleentheid te gee om ʼn afgeronde mensie in die samelewing te word.

Ja, die nuwe kurrikulum en omstandighede maak ons as ouers soms bekommerd, maar ʼn omgee-onnie steur hulle nie aan die veranderende strome nie. Die onnie wat ek gereeld raaksien is die persoon wat steeds ekstra doen, steeds meer ure insit in beplanning en steeds meer aandag aan die leerders gee. Al sit daar 35 gesiggies voor hulle.

Ons as ouers weet so min van die onderwysers wat ons kinders onderrig. Dit is wel nie nodig om elke detail te weet nie, maar ek glo dat om ʼn verjaarsdag te onthou, of om dankie te sê sommer ʼn juffrou of meneer se dag kan ophelder. Dit is ook hoekom ouer betrokkenheid belangrik is in ʼn goeie skool. Daardeur maak ons die las vir die onderwysers minder en so vloei die stroom leerkrag net makliker.

Ek weet ook nie of dankie ooit genoeg gaan wees nie. Terwyl my kinders nog klein is en daar nog ʼn paar jaar is voor matriek aan ons deur klop, kan ʼn mens maar net probeer om dankbaar te wees vir die tyd en moeite wat ingesit word in ʼn mens se kind se ontwikkeling.

Dankie aan al die onderwysers wat so hard werk en deel in ons kinders se opvoeding. Daardeur sorg hulle dat ons kinders as volronde mense die lewe betree. Dankie vir die afstof van elke diamant wat julle tussen die klippe kry. Dankie vir die saam slyp en die poleer sodat ons die eindproduk kan ontvang.

Share This
Website Design & Maintenance by Lenomedia.
web design potchefstroom