Ek wonder hoe het die vroue gepak wat oor die Drakensberge moes trek. Jy gee jou hele huis op, alles waarvoor jy lief was, dinge waaraan jou siel gewoond geraak het. En ek wonder selfs hoe lank het hulle gehad om te beplan vir die Groot Trek? Het hulle ook met ʼn afmerklysie geloop en kyk of als gedoen is? Daar was net kiste, so hoe het hulle kopgehou?

Ons Smitte se trek kan ook die Groot Trek met hoofletters genoem word. Toe die trek lorrie stop word die laaste paar bokse nog toegeplak en vir my wat nogal perfeksionisties is, was dit maar ʼn groot kopskuif; die deurmekaarspul.

Die plan vir trek het so drie maande voor die tyd begin en na baie bid en dink het God se rustigheid diep in ons gemoed kom lê. Ja, ons het besef dat trek nie verniet tweede gelys is op die lys van traumas nie en ons het emosioneel so goed probeer voorberei as wat ons kon.

Ek het besluit om een kamer op ʼn slag te vat en so stuk, stuk aanbeweeg van kamer na kamer. Elke boks het ek ordentlik gemerk sodat nie net ek dit kan lees nie, maar al die betrokke hande dit reg kan hanteer. Maar mens moet ook onthou dat trek en pak nie al is wat jy as mamma behartig nie. Die kinders gaan steeds skooltoe, neem steeds deel aan buitemuurse aktiwiteite en jou eie besigheid of werk mag ook dalk nog aandag verg. Die kans dat jy en jou familie oorweldig voel deur hierdie proses is goed. Ek was met stadiums goed oorweldig en het op ʼn dag baie moedeloos met ʼn vriendin se ma gesels oor die situasie wat ons in die gesig staar. Haar woorde was so gerusstellend: “My kind, God is mos binne-in jou. So, oral waar jy ook al gaan is Hy by jou, maak nie saak waar jy nou jouself bevind nie.”

As die dae moeilik geraak het en ek nie geweet het waar om te begin nie of nie lus was vir pak nie, het ek teruggedink aan haar woorde. Dan het ek net weer stil geraak in dié wete dat als goed sal uitwerk. Ek het ook seker gemaak dat ek tyd maak om stil te raak by God en krag uit Sy teenwoordigheid en Woord te tap, want met ʼn ‘onderstebolder’ roetine is dit die eerste ding wat korter word of gewoonlik wegval.

Wel, na wat voel soos ʼn leeftyd, is ons in ons nuwe huis. Daar is nog ‘n paar onaangeraakte bokse, maar weet jy wat, dis ‘ok’. Nou kan ons ons voete vind en klein stappies vorentoe gee en so net weer terugkom na die basiese. Ons kan fokus op mekaar, op verhoudinge wat afgeskeep was die laaste paar maande en net weer ‘wees’, normaal wees!

Ek deel graag ʼn afmerklysie wat my gehelp het met die beplanning van die Groot Trek:
• Maak genoeg appelbokse bymekaar. Dis lekker sterk en ʼn lekker grootte.
• Kry grootmaat borrelplastiek (bubblewrap) of koerante vir die toedraai van glasware.
• Maak seker almal weet waar is die breë kleefband, koukiepen en skêr.
• Kanselleer dienste soos internet, posbus ens. ʼn maand voor die tyd.
• Onthou om nuwe dienste by julle nuwe bestemming aan te sluit.
• Hou boek van wat in bokse gepak is, dan hoef bokse nie oopgekrap te word opsoek na sekere items nie.

Deur die hele trek het ek net besef dat in hierdie vinnig-bewegende wêreld ʼn mens tyd moet maak om stil te word, rustig die skoonheid in die daaglikse lewe te vind en tyd te maak vir die mooi. Omhels verhoudinge. Skep geleenthede. Leef verantwoordelik. En leef vir God, dan sal als in plek val.

Share This
Website Design & Maintenance by Lenomedia.
web design potchefstroom