Dit voel of hierdie jaar behoorlik vir almal tot ‘n einde gespoed het en meeste van ons kan ʼn T-hemp dra met die spreuk: ‘Been there, done that. Got the T-shirt.’

Dit was ʼn wilde, woeste jaar. ʼn Vinnige 2017 waar daar soveel dinge gebeur het op die nuus front. As ʼn mens ʼn lys moet maak van al die negatiewe dinge was daar paar wat aan die hartsnare van elke burger van hierdie land getrek het.

Maar wat help dit ons om ʼn lys te maak van die negatiewe? ʼn Lys van die verlede onderdompel mens net met ʼn gevoel van onsekerheid wat alle hoop afstroop tot op die been. En om sonder hoop te wees, is om in ʼn donker gat te val waar swaar gevoelens mens maklik kan onderkry. Terwyl ons so amper aan Kersfees raak begin ʼn mens se gedagtes tog lei na die nuwe jaar wat nie te vêr in die toekoms lê nie.

Ek het besluit dat ek nou al aan 2018 wil dink. Ek wil nou al seker maak dat ek reg is, geanker is voor die jaar wegspring. Dat ek met ʼn geruste en tevrede hart 2017 kan afsluit.

ʼn Lewe, jóú lewe, bestaan uit klomp geleenthede of ‘opportunities’ wat in mekaar geweef is en waaruit jy moet sin maak. Mens kan baie van die dinge wat oor mens se pad kom in jou daaglikse bestaan, sien as geleenthede. Omdat die lewe so vol geleenthede is, veral as jy met ʼn positiewe uitkyk daarna kyk, kan jy maklik jou skedule en so jou lewe oorlaai met dinge wat jy glo ‘die regte geleentheid’ is.
Maar hoe weet ons dan wat is die ‘regte geleentheid’? Ek het bietjie gaan dink oor die woord en sy betekenis. Kyk na die woord ‘opportunity’. Die laaste deel van die woord stel duidelik ‘unity’.

My oë het omtrent gerek toe ek dit raaksien en dadelik het my gedagtes gegaan na waar ons eenheid in ons lewens ervaar en wat dit werklik beteken.

Daar is eenheid in gesinne, eenheid in skole, eenheid in werksplekke. Maar die belangrikste eenheid wat ons as mens het, is ons eenheid met God. Ons hoofdoel is om hier op aarde meer en meer van Hom te leer ken sodat Hy deur ons kan leef. Dan is dit ʼn eenheid. Dit beteken ook dat Hy IN ons leef.

Deur IN iets te wees, of in ‘unity’ te wees kan ook die betekenis van betrokkenheid dra. Ons is daagliks IN situasies. Maar is jy werklik IN ʼn situasie of is jy net deel van ʼn situasie? Is jy IN jou gesin besig met jou daaglikse dinge, is jy betrokke IN jou kinders se lewe, of is jy net op die kantlyn? Indien jy jouself nie IN situasies bevind waar jy bewus is van die omstandighede nie, sal jy nie ʼn blywende verandering kan voortbring nie.

As jy dus ‘in unity’ met iets is, leef jy mee in die geleentheid en geniet jy dit so ook meer. Kyk na jou lewe en vra jouself af of jy IN situasies is. Want as jy gereeld op die kantlyn staan gaan daar nie verandering kom nie. Ek het dus besluit dat ek alle geleenthede of ‘opportunities’ gaan ontleed in 2018 deur te vra of dit in ‘unity’ met God gebeur. Indien wel, dan is dit ʼn geleentheid wat ek kan aangryp en God daardeur kan verheerlik deur miskien so ʼn verskil in iemand anders se lewe te maak.

Die gejaag en gekommersialiseerde lewenstyl is genoeg om halt te wil roep hier aan die einde. Met die handbriek in die hand wil ek ʼn paar vrae stel wat jou moontlik kan leiding gee in 2018:
Het jy in 2017 ʼn verskil in iemand se lewe gemaak?
Het jy iemand anders bygestaan wanneer nodig?
Het jy gebid vir iemand?
Kon God die geleentheid kry om deur jou te leef na ander toe?

Jou enigste lewe moet so geleef word dat jy ʼn seëning vir ander rondom jou is. Deur so te lewe fokus jy nie op jouself en probleme rondom jou nie, maar op die Antwoord vir die probleme, Jesus.

Leef nie net in 2018 nie, maar nou al, ʼn lewe waarvan jy nie ʼn vakansie nodig het nie en besluit mooi watter geleenthede jy gaan aangryp wat jou in eenheid met God gaan bring en hou.

Share This
Website Design & Maintenance by Lenomedia.
web design potchefstroom