Elke jaar arriveer lente op God se perfekte tyd. Die nuwe blomme en blare steek braaf hulle koppe uit, die voëls sing sommer harder en gesels vroliker, en so word die lente stadig aangejaag tot ons onder die groen blare dakke van die bome kan piekniek hou.

Na Augustus se winde kan ʼn mens die fyn stof wat opgaar in elke hoekie van die huis raaksien. Soms net as die lig op ʼn sekere manier val. Net so het ons ook stofhoekies in ons siel waar die stof wegkruip en net wys as die lig daarop val. Lente bied vir ons die geleentheid om beide ons huis en ons harte skoon te maak, of in ander woorde te ‘spring clean’.

Ek dink nie daar is nog iemand wat so opgewonde raak oor regpak, weggooi en skoonmaak soos ek nie. Die groot ‘spring cleaning’ idee maak my sommer liries. As ek so deur my huis stap aan die einde van Augustus dan voel ek sommer so ʼn jeukerigheid. Die lus om als weer skoon te skrop en te herstel na ʼn helder, vars oppervlak, uit te gooi of nuut te herontdek is net heerlik. My man se mening is dat as hy te lank stilsit, hy ook net in die donasie afdeling mag beland.

Ek het toe begin wonder hoekom dit so is. Hoekom sal ek ʼn heerlike ontspannende oggend verruil vir die regpak van ʼn kamer? Hoekom sal ek van kamer tot kamer loop en optel as ek eerder op die bank kan sit en storie lees?

Die antwoord daarvan was eenvoudig. Dis die gevoel wat jy kry as jy dit klaar gedoen het. Die kamer haal asem, jy haal asem, jou gesin kan asemhaal. Die dringendheid om elke hoek en draai in die huis skoon te maak bemoedig ʼn gees van energie. Met my optellery en regpakkery het ek op hierdie vraag in my binneste afgekom. Wat daarvan as ek so langsaan my huis se skoonmaak en organisasie sommer ook ʼn sielsorganisasie en skoonmaak aanpak?  Dit het my laat wonder en met ʼn lysie laat opkom om jou te help om meer georganiseerd in jou huis, maar ook jou siel te wees.

Vyf wenke vir organisering:

1. As jy bevoorreg is om ʼn huishulp te hê kan jy haar leer dat sy alle objekte waaroor sy nie seker is nie, op een plek neersit. So kan jy weet wat om haar te leer, maar ook word daardie speelding of lipstiffie nie verlore tussen iets anders gebêre nie. Dink daaraan … een plek waar jy al jou verlore gedagtes en gevoelens kan gaan neersit.  By Jesus se voete. Daar sal Hy vir jou wys waar om als te bêre en hoe om als te hanteer.

2. Loop een keer ʼn dag of week deur elke kamer en tel als op wat rondlê. Bêre dit op hulle plek.  Indien dit nie ʼn plek het nie, of nie gebruik word nie, skenk dit, verkoop dit of gooi dit uit. As jy selfs net een keer per week deur die kamers van jou hart loop en als optel wat daar rondlê, dan kan dit ʼn baie skoner plek word. Besluit of daardie gevoelens of gedagtes wel ʼn plek het in jou hart en siel, gee dit vir God en vergeet daarvan. Of hanteer dit indien nodig.

3. ʼn Belangrike reël in ons huis is dat as jy iets uithaal, jy dit weer moet bêre.  Net so moet jy gedagtes en dinge wat jy uithaal in jou siel, weer terug bêre sodat dit nie rondfladder in jou hart nie.

4. Klerekas uitsorteer is een plek waar ʼn mens behoort georganiseerd te raak. My klerekas is dalk hoërgraad –  kleur by kleur, al die hangers dieselfde en in een rigting, maar begin net eers deur jou kas te organiseer deur werklik net te behou wat jy dra. Jesus het vir ons die kleed van geregtigheid aangetrek toe Hy aan die kruis vir ons gesterf het. Trek elke dag daardie wete aan dat jy geregtig is voor Sy oë.  Hy kyk na jou soos wat Hy na Jesus kyk.

5. Moenie skaam wees om jou kaste uit te pak en wit olifante te verkoop of aan iemand te skenk nie.  Vir daardie persoon het dit weer ʼn nut. Pak uit jou wit olifante by God en selfs mense. Hier is mense baie versigtig, maar ek glo tog dat ‘n mens nie moet skaam wees oor waar jy jouself in die lewe bevind nie. Hiermee bedoel ek nie dat jy al jou foute en gevoelens moet uitpak voor iemand nie, maar net dat jy dalk met daardie een persoon kan sit en praat oor dinge wat uitgepak moet word. As jy selfs nie kans sien vir dit nie, besef dat God jou oneindig liefhet en dat Hy wel na jou sal luister. 

Soms irriteer my perfeksionisme die mense rondom my, maar kan tog sien dat die dae wat ek net bietjie laat los, hulle ook verward raak. Al is jy nie ʼn perfeksionis nie, is die gevoel van regpak universeel. Daardie gevoel van vervulling, van rustigheid en die wete dat dinge uitgesorteer is, is onvervangbaar. Probeer dit. Skeduleer ʼn spesifieke tyd vir jou huis en vir jou God om bietjie te skrop. Jy sal nie terugkyk nie.

 

Share This
Website Design & Maintenance by Lenomedia.
web design potchefstroom