In die fleur van my lewe, dis nou 40, het ek besef dat daar ʼn paar goed is wat mens nie weet voordat jy hierdie ouderdom bereik nie.  En let wel, ek dink die woord ouderdom is nie ʼn baie vleiende woord nie! Dis soos om te moet kies tussen rooiwyn en sjampanje.  Daar bring die woord meer lewe aan die idee van wat dit werklik is.  Hoekom kan ek nie die ouderdom van rooiwyn en die vonkel van sjampanje steeds saam beleef nie?

Ek verstaan dat mens fisiologies nou nie meer so maklik heen en weer op ʼn hokkieveld kan hardloop nie en dat die pyne en skete dalk meer is, maar daar kan steeds vonkel en sprankel in die lewe wees.  Hang af van hoe jy daarna kyk.

Op ʼn ernstiger noot: die wysheid wat saam met die jare kom, maak die verstaan soms makliker.  Daar is moeilike tye en probleme wat ons bring tot waar ons vandag emosioneel, geestelik en fisies is.  Ons kan kies om gedurende daardie tye positief of negatief na omstandighede te kyk.  Soms wens ek vir ʼn stres vrye lewe, maar hoe groei ons dan?  ʼn Lewe sonder tekstuur, sonder drama, sonder enige op en af. ʼn ‘Eenvoudige’ lewe. ‘n Lewe wat lyk soos ʼn fantastiese advertensie.

Is dit nie iets waarna ons almal heimlik strewe nie? Ons raak so gefrustreerd met onsself as ʼn dag nie ‘stres-vry’ verloop nie, nie perfek uitdraai nie, wanneer ons nie aan ons verwagte idee van produktiwiteit, fokus en supervrou voldoen nie.

Dit kom by die eerste ding wat ek geleer het.  Die gaping tussen ons verwagting en ons realiteit is besig om ons vreugde te steel.  Waar kom daardie verwagtings vandaan?  Waar kom die ‘superma’ idee vandaan? Wie het die suksesvolle besigheidsvrou prentjie in ons kop geskets?

Ons kan optree deur die realiteit te blameer en te lewe in ʼn ‘dis-nie-goed-genoeg-nie-gees’ of ons kan besef waar ons verwagtinge vandaan kom en dit sien vir wat dit is, ʼn verwagting.  Wanneer ons bewustheid tot daardie verwagting bring, onttroon ons die mag wat dit oor ons lewe het en kan ons meer bedag lewe.  Bedag omskryf nie die idee vir my so goed soos sy Engelse eweknie ‘mindful’ nie.

As ons ‘mindful’ kan lewe, kan ons die lewe omhels, sonskyn of nie, vonkel of nie en besef dat alles in ʼn mens se lewe daar is om iets uit te leer.  Vertroetel dit wat die lewe vir jou gegee het, dit wat jy vir jouself opgebou het en ook dit wat nog moet kom.  As dit nie nou is wat jy wil hê nie, kyk weer na jou verwagtinge en moenie toelaat dat dit jou realiteit ontken nie.

Die ander produkte van my 40 jaar is:

Wees dankbaar vir die kleinste vreugdes. Lag daagliks. Omhels jou drome. Ontdek die wonder van stilte. Wees ʼn inspirasie vir ander.  Maak ʼn verskil in ander se lewens, al is dit hoe klein. Wees meer – jaag minder. Laat jouself toe om God se seëninge te ontvang. Maak los die bande van selfverwyt en -oordeel. Klim uit jou bootjie en gee klein treetjies na jou drome. Wees voorbereid vir die lewe se aanslae en onthou om te koes! Omring jouself met mense wat jou oplig. En dien die mense wat jou nodig het. Lewe jou lewe – nie die lewe wat ander vir jou wil hê nie. Luister na diegene wat die pad voor jou met wysheid gestap het.  Behou balans en wees ʼn vriend vir jouself.  Spandeer tyd saam met jou Skepper. Geniet die vonkel in die lewe en borrel oor na ander.

Maar die belangrikste van alles – wees geduldig met jouself, maar ook lief vir jouself. Jy is, maak nie saak in watter fase jy van jou lewe is nie, ten volle vrou, ma, besigheidsvrou, perfek nes jy is.

Share This
Website Design & Maintenance by Lenomedia.
web design potchefstroom