Toe my seun vir my sê: Mamma, ek is nie lus vir karate nie, ek is te moeg, het daar dadelik ‘n gevoel van jammerte vir hom oor my gespoel. Hy is net 7 jaar oud en nie veronderstel om nou al ‘moeg’ te voel vir ʼn aktiwiteit wat hy eintlik normaalweg baie geniet nie.
Die vrae wat deur my kop begin draai het van daardie dag af, was legio.
Wat is die gesonde hoeveelheid aktiwiteite waaraan ʼn kind moet deelneem om optimale ontwikkeling te verseker? Is daar so iets soos ʼn sekere hoeveelheid, of moet hulle eintlik net speel soos baie kenners wel sê. Wanneer oorlaai ʼn mens jou kind? Wat is die tekens van oorlading?
Dan is daar die anderkant van die muntstuk. Moet ons nie dalk ons kinders wel motiveer om hulle aktiwiteite tot die beste van hulle vermoë te ontwikkel nie? Sosiale media is dan vol van 5 jarige wonderkinders wat ʼn Beethoven stuk sonder enige foute lewer. Hoeveel van hierdie bogenoemde ontwikkeling het te doen met aanleg? Sal ʼn kind wie aangelê is vir bv. klavier beter vaar in daardie veld as wat ʼn mens hom/haar laat netbal of krieket lesse neem?
Sjoe, my kop het omtrent vir ʼn week lank gedraai.
Ons as ouers wil net die beste vir ons kinders hê. Ons wil graag dit wat ons in ons kinders sien, ontwikkel en vorm soos klei. Wanneer dit tot op ʼn vlak kom waar die kind nie meer wil nie a.g.v. te veel druk, of omdat hy net doodeenvoudig nie aangelê is vir die aktiwiteit nie, moet ons ook kan erken dat dit die einde van die pad is. Of net ʼn pouse tot ʼn volgende keer wanneer die kind weer belangstelling toon.
Ouers se drome vir hulle kinders kan ook soms ʼn struikelblok eerder as ʼn trappie vorentoe wees. Daardie ouer se droom dat sy kind vir die eerste rugby- of netbalspan gekies word, veroorsaak moontlike struweling, ongelukkigheid en onnodige druk op jou kind. Maar indien dit reg hanteer word, kan dit blom in ʼn baie mooi en gesonde genieting van die aktiwiteit.
Na ʼn goeie nagrus het ek toe met my kind gaan sit en gesels en oor sy aktiwiteite besluit. En raai wat? Hy het self besluit watter aktiwiteite hy aan wou deelneem en wou baie graag vir ‘n ekstra aktiwiteit inskryf. Met ʼn geruste moederhart het ek hom leiding gegee en tevrede saam met hom gestem oor sy aktiwiteite.
Die nadraai van al my gedink en redeneer was dat daar altyd balans moet wees vir iets om harmonie te ervaar. Indien jou kind aangelê is vir baie verskillende aktiwiteite, is dit miskien nie nodig om hom of haar aan alles bloot te stel as hy/sy nie belangstelling daarin toon nie. Indien jy wel jou kind se aanleg duidelik kan uitwys, glo ek dat die regte motivering vir jou kind hom of haar tot hoër hoogtes kan inspireer.
As ons kyk na motivering, dan praat ek nie hier van ‘omkopery’ nie. My gedagtes staan eerder stil by ʼn intrinsieke of interne motivering wat die kind sal ervaar as die situasie reg hanteer word volgens sy of haar persoonlikheid. Hier is ʼn paar wenke om kinders te motiveer:

1. Betekenisvolle gesprekke met jou kind
Kinders is van nature nuuskierig en om hulle uit te nooi om te verstaan hoekom sekere goed op ʼn sekere manier werk, kan hulle ʼn stappie vorentoe laat beweeg in die feit dat hulle self die besluit kan uitoefen om die aktiwiteit voort te sit of dan te laat vaar.

2. Leer hulle onafhanklikheid
Daar is ʼn sekere gevoel van eiewaarde wat ontwikkel as ons, ons kinders lei om self besluite te neem. Hier is leiding steeds nodig deur die bogenoemde gesprekke.

3. Positiewe denke
Wanneer kinders ʼn ‘ek kan’ houding ontwikkel, dan leer dit hulle ook om deur te druk in moeilike situasies.

4. Vra vrae
Dit is baie nodig in ons samelewing vandag om krities te begin dink, dus is dit nodig dat ons kinders leer om vir hulself te dink deur vra te vrae oor situasies en probleme.

5. Wys op vooruitgang
Maak ʼn punt daarvan om op die goeie te fokus deur jou kind te prys vir dit wat hy/sy al bereik het. Moenie te veel op die verlede of op laagtepunte fokus nie, hoewel dit altyd gebalanseerd is om daaroor te praat.

6. Beperk die eksterne motiverings
In vandag se samelewing is dit ʼn baie moeilike ding om te bereik en omdat ons as ouers (en onderwysers) geneig is om ʼn beloning te gee vir ʼn taak, is ons kinders ook so ingestel. Kyk hier eerder na die viering van ʼn doelwit wat bereik is deur ʼn ware beloning hier te gee sodat die kind die satisfaksie sal ervaar van sy insette en wat hulle later sal lei om eerder satisfaksie as beloning te soek.

Gesels met jou kind, luister na jou kind se hart, moedig hom of haar aan waar nodig, maar laat jou kind ook toe om kind te wees. Jy kan hom/haar help vorm deur liefde en om vir God se leiding te vra in elke situasie.

Share This
Website Design & Maintenance by Lenomedia.
web design potchefstroom